Charl van der Merwe het dié foto ingestuur van ’n besonderse wolkformasie Maandag oor Pretoria, waar swaar donderstorms laatmiddag op plekke voorgekom het. Die foto is in Menlopark geneem.
Nog ’n hittegolf tref dele van die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en KwaZulu-Natal Woensdag.
Veral in Noordwes gaan dit bloedig warm wees met temperature van tot 42 °C, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
Op plekke in Gauteng kan temperature 39 °C bereik en in die Vrystaat en KwaZulu-Natal 37 °C.
Erge donderstorms word vir dele van Gauteng voorspel.
Volgens die weerdiens sal temperature eers teen Maandag begin daal.
Swaar donderstorms, sommige wat met hael gepaard gegaan het, het Maandagmiddag laat oor dele van Johannesburg en Pretoria voorgekom en aan die Oos-Rand is vlugte op die O.R. Tambo-lughawe weens die stormweer vertraag.
Volgens vlugskedules is tot 18 vlugte wat van die lughawe moes opstyg, vertraag terwyl tot 52 vliegtuie nie kon land nie, het News24 berig.